Korrels Lente-uitgawe 2019
Hoofartikel - Christus die oorwinnaar -  deur Dr Mike Heaney

Wat is die narratief of storie van jou lewe en die een wat jy graag vertel oor ons gemeente? Ek
gesels nou die dag met ”oud lidmate”, wat nog nie bedank het nie, oor die verlede. Hulle steek
nog vas by iets wat ’n tyd terug in ons gemeente afgespeel het, wat ’n slegte smaak in hul mond
gelaat het. As ons maar soos dinge aangaan, kon vergewe en vergeeet. Ons skryf almal aan die s
torie van ons eie lewens en dié van die gemeente.

Ons ”stories” word dikwels gevorm en geslyp deur dié van ander. Ons storie word die lens
waarmee ons na die lewe kyk. Wat is die storie van jou lewe? Is jy nog vasgevang
deur die verlede, of word jou lewensverhaal en die van ons gemeente gestempel
deur die lewe van Christus, die Oorwinnaar?

Die storie van die wêreld is nie altyd mooi nie. Die Satan verlei en verwoes. Die destruktiewe
mag van die mens word gesien in die broedermoord van Kain op Abel, soos ons vroeg reeds
in Genesis lees. Ons eie swakhede en stryd ken ons, veral dan die stryd tussen die sondige natuur
van die mens en wat die Gees wil. In Openbaring 17 word die Satan en die
Bose in die vermomming van ’n sedelose vrou gesien. Sy is die moeder
van sedeloosheid en losbandigheid. Ons voel soms uitgelewer aan hierdie destruktiewe en
anti-christelike magte. Die probleem is net dat Christene fokus op die negatiewe. Dit word die
hoof narratief van ons hele lewe en die lens waardeur ons alles sien. Kyk net hoe sleg is alles en almal.

Sataniese magte is inderdaad die wêreld vol. Ons sien dit waar gelowiges absurd voorgestel
word, waar godsdiens na die kantlyn gerangeer word, waar mense al meer afvallig van die ware
kerk word, en die leuen van godsdienstige groepies glo. Hulle eet alles vir soetkoek op, want die
leuen word so mooi verpak. Satan en al die bose verleidinge in die wêreld is gelukkig nie die
super suksesstorie van die ewigheid nie. Nee. In Openbaring 17:14 staan daar dat die anti-christelike
magte oorlog sal voer soos hulle steeds voer, teen Christus (die Lam) en teen Sy volgelinge
(ons, die kerk). Die Lam sal hulle egter oorwin, omdat Hy die Here van die
heersers en die Koning van die konings is.

Christus kan jou storie en dié van ons gemeente oorskryf, nuut skryf. By Golgota en
die oop graf het Hy reeds. Ek daag jou uit om die storie van Christus se eerste oorwinning (Golgota)
en finale oorwinning (Armageddon) jou eie te maak. So word ons positiewe mense en steek
nie vas by die narratief van gister wat verby is nie.

                       ”Kyk Ek maak alles nuut!”  So sê Christus, die Oorwinnaar, op
Sy hemelse troon.  (Openbaring 21:5)

Dr. Mike Heaney. 

ONTMOET  MARYNA DE JAGER  -  ONDERVOORSITTER VAN VROUEDIENS

Ons het bietjie meer as 7 jaar gelede op die ingewing van die oomblik besluit
om af te tree en weg te trek uit Gauteng nadat ons seun hierdie huis in Munster
gekoop en vir ons aangebied het.  Dit het beteken ek moes dadelik my werk bedank en begin pak.

Ons is ou  Krugersdorpers en het ons kinders daar grootgemaak en drie
van die vyf woon nog steeds daar.  Ons het 5 kinders en 8 kleinkinders, 5 seuns
en 3 dogters.  'n Wonderlike spannetjie! Die oudste kleinseun is 'n vlieënier en
alreeds 23 terwyl die jongste een 18 maande is.  Ons mis dit om so
ver van hulle af te woon, maar gaan kuier darem gereeld.

       Ek het die laaste 17 jaar voor aftrede eers by Krugersdorp-Oos- en
daarna by Muldersdrifgemeente  in die kerkkantoor gewerk.  Dit was wonderlike
jare en ek was baie betrokke by al die aspekte van kerkwerk: Ring (Ringskassier),
Plaaslike Sinode en het selfs twee keer die Algemene Sinode bygewoon
as verteenwoordiger van die destydse Wes-Transvaalse Sinode wat nou Goudvelde is.

Ek is lank reeds betrokke by Port Edward se Vrouediensbestuur en met
Annemie se aftrede saam met haar man, is ek as ondervoorsitter van die Vrouediens verkies.

Dis met groot dankbaarheid dat ek kan sê dat ons regtig 'n goeie keuse gemaak
het met ons aftreeplek.  Ons is baie gelukkig hier en het die beste vriende gemaak. 

Die Here is baie goed vir ons!     

 Maryna.


GEMEENTEVERHAAL

NG Kerk Margate 2018 / 2019

RINGSITTING 19 AUGUSTUS 2019 in MARGATE 

 Die gemeenteverhaal word in verhaalvorm vertel en fokus op die
lief en leed van die Ned. Geref. Gemeente Margate, die afgelope jaar.

1    Die lief:  Die gemeente het op beide bedieningspunte, Margate sowel as Port
Edward ’n oplewing in die gasvryheidsbediening beleef. Sondae word tee of koffie
na die diens geniet op weeklikse basis by Margate en maandelikse basis by Port Edward.
Die doel is om mekaar beter te leer ken as broers en susters in Christus en om
besoekers en nuwe intrekkers tuis te laat voel 
in die gemeente as liggaam van
Christus. Margate is ’n geloofsfamilie en die gasvryheid is bedoel om die hele
gemeenskap uiteindelik te raak waar ons leef en werk of rus. Daar is waardering
vir die eredienste en besoekers aan die kus keer elke keer terug na die dienste.

Ons is dankbaar vir die gestigte Onder-50 bediening wat fokus op gesinne. Ten minste
twee geslaagde byeenkomste is gehou die afgelope jaar.  Die kierieklub en
Naomigroep blom. Pro Deo het haar vlerke gesprei en neem nou hande met
al hoe meer kerke in die hele gemeenskap om veral die bejaardes, siekes en eensames te
dien. Die kategese en kinderkerk beleef groei en toon ’n opwaartse kurwe veral wat
bywoning betref. Bekwame en toegewyde gelowiges en helpers bring tans hul kant daar.

Onder leiding van ds. Louis van der Walt word ook gepoog om die
Bybelstudiegroepe te versterk. Korrels en SMS-boodskappe  help met kommunikasie.
Die gebedsbediening in die gemeente is ’n kragpunt. 25 gesinne word steeds maandeliks
met kospakkies ondersteun. Kinders se busgeld word gesubsidieer. Die Hoër sowel
as die Laerskool Suid Natal word met kontant ondersteun met die kospakkieprojekte aldaar.

Daar is nog baie lojale lidmate in die gemeente. So wonderlik om van ’n
betrokke lidmaat by die Jeugbediening te kon hoor: ”Dis my kerk hierdie. Niemand sal my wegrokkel van hierdie kerk af nie.”

Die negentigjarige lidmate is ’n riem onder die hart en ’n wekroep aan ons almal.
Waar hoor jy van ’n negentigerjarige wat aanmeld om ’n Bybelstudiegroep te lei, of die
gemeenskap druk vir ’n verkeerslig, of valskermspring op negentig, of op die Kerkraad dien, o
f die sang lei op 93 jaar?  By Margate gemeente! Tagtig of negentig, maar aan die brand vir Jesus!

Ons is dankbaar teenoor dr. Dawie en Annemie vir die meer as twaalf jaar in die
bediening op Margate en bid hulle die seën van die Here toe met hul aftrede. Die
beroepingsproses behoort teen die einde van die jaar afgehandel te wees
met die verwelkoming van ’n nuwe leraarspaar. Bid asb. vir hierdie proses.

2    Die leed:  Dis nie lekker om ’n leraarspaar te groet nie, maar ons
bede vergesel die pastoriepaar, dr. Dawie en Annemie Oosthuysen.

Daar is ook leed. Sommige gemeentelede is ontstel deur tendense in die breër k
erkverband. Veral oor wat by ander gemeentes gebeur en ook uitsprake deur
kerkleiers, onder andere die Algemene Sinode. Dit raak sake van leer en aktuele belang.
Dis belangrik om te onthou dat elke gemeente volwaardig kerk is. Wat in die res van die
kerk gebeur is nie noodwendig wat in die NG kerk Margate se gemeente gebeur nie.
Lidmate behoort hul te vergewis van wat ons eie gemeente se standpunt oor sake is.
Wat in die pers verskyn is nie noodwendig die gemeente se standpunt nie. In Margate
gemeente val die klem op suiwer evangelieverkondiging.

Daar is lidmate wat die gemeente met hart en hand, asook rand en sent ondersteun.
Dink tog daaraan om in u boedel ’n bedrag aan die gemeente te bemaak om die werk
van die Here te help voortsit in hierdie gemeente. Op ʼn meer hartseer noot is daar egter 
lidmate wat los geraak het van die kerk. Hulle skakel by ander nie-Gereformeerde kerke
in en draai hul rug op hul doop en lidmaatbeloftes. Baie het net weggeraak,
terwyl ons almal voor die Here beloof het om aktief aan die werksaamhede
van die NG kerk deel te neem. Dis so hartseer dat selfs jongmense wat
belydenis van geloof afgelê het in die gemeente, in die omgewing bly maar hul harte
toegemaak het vir die gemeente. In 2020 sal daar ’n herverbintenis geleentheid of geleenthede
geskep moet word vir lidmate om hul te herverbind aan hul lidmaatsbeloftes en a
ktief by die gemeente en die gemeenskap betrokke te raak.

Gelowiges is geseën om te seën. Die vraag is of dit nie ’n lewenswyse by elke
gemeentelid moet word nie, alhoewel ons gemeente se embleem dit tog sê:
”Margate leef vir Christus.” Die toets is of ons as dissipels van die Here Jesus Christus
in die gemeenskap ’n verskil maak waar ons leef, speel en werk? Nooi ons lewens
andere na Jesus toe? Nooi ons mense na die eredienste en byeenkomste van die
gemeente toe? Skakel u in by ’n kleingroep waar u andere versorg met die gawes wat
die Here u gegee het, of vra ons nog: ”Wat sal die kerk vir my doen?”

Hiermee word dan dank aan die Here betuig wat Sy kerk in stand hou. Jesus is
die hoof van die kerk en tog mag ons sê soos daardie positiewe gesin:
”Hierdie is my kerk en hier bly ek betrokke.”

Daar sal gelukkig altyd kinders van die Here wees

wat die NG kerk Margate en die Here lief het

en met passie ondersteun.

Mag jy een van hulle wees.

Dr. Mike Heaney, namens die Kerkraad : NG gemeente Margate

DIENSGROEPE & KOMMISSIES

PRO DEO

 Pro Deo is nou ʼn amptelike Nondenominasionele Vrywillige Organisasie (NPO nommer 226- 932) met aktiewe lede uit die meeste Christelike kerke aan die Suidkus. Kerke wat gevestig is in die geloof van die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees.

Dit beteken nie dat ons weg beweeg van ons fondasie in die NG kerk Margate nie, maar eerder dat ons uitgebrei het vanaf die kerk met uitreiking na ander kerke. Die redes sluit onder andere in:

-  Ons bediening omsluit die totale Suidkus gemeenskap;

-  Ons kon nie met ons werksaamhede voortgaan met net lede van die NG kerk nie - wat op die oomblik nie meer as 12 aktiewe lede is nie;

-  Ons het gevind dat die meeste ander kerke, op kleiner skaal, Pro Deo werk doen en deur saam te smelt kon ons ʼn wyer netwerk vorm van dienslewering;

-  Ons het fondse dringend nodig, veral vandat ons begin het met ons Tuisversorgingsdiens wat nou byna R1,000,000  per jaar oorskry. Die nuwe NPO, onafhanklik van die kerk, gee ons die geleentheid om as ʼn onafhanklike organisasie nasionale en internasionale bemarking te doen.  Ons jaarlikse golfdag en fietstoer se gelde is nou net ʼn druppel in die emmer.

Wat kan meer gedoen word:

- Plaas ons op jou gebedslys en doen voorbidding vir die werk wat ons doen;

-  Sluit by ons aan as aktiewe vrywillige werker;

-  Word ʼn lojaliteitsklublid met maandelikse donasies;

-  Kontak Eloïse by 082 822 661 of Henda by 082 777 6502 vir meer inligting.

Pro Deo groete en seënwense tot volgende keer.

Eloïse

 

KLEUTERKERK  —  Tannie Diana Landsberg

 

 

 

 

 

 

 

Winter se gletserletsels is oënskynlik sigbaar in elke aspek van ons lewens.  Ons is bankrot na die vakansie en die skaal is gebreek.  Tog deurdrenk ʼn tikkie opgewondenheid ons wese met Lente se eerste ’oorwinningsbloeisels’. Ons is halfpad. Halfpad is selfondersoek tyd. Dit IS wat dit IS.  Ek is WAAR ek is. God het my hier geplant. Gaan die onkruid ons toegroei of gaan ons blom?

Gaan ons God se liefde en genade in ons lewens toelaat of gaan ons self ’die water in wyn verander’?

Vanoggend loer ek deur die ruit na my singende japsnoet in haar pienk pantoffels. Kat in die kombers toegedraai onder die arm en met die ander hand pluk sy die lááste bloeisel af in die voortuin.  Wat my opgeval het is: nadat sy die bloeisel steelloos gepluk het, aanskou sy dit met skrefies ogies wat dan toegaan wanneer sy die soet reuk diep inasem. Daarna volg ʼn sug van tevredenheid. O ja, en die kat moes ook ruik. Terwyl ek so sit en dink aan die spreekwoordelike ’staan vir ʼn oomblik stil en ruik die rose of is dit koffie,’ kom sy met die grootste glimlag en ʼn miniatuur ruiker langs my: ”Vi jóú mamma!” My hart bokspring! Ek het weer moed om te blom waar ek geplant is.

By die Kleuterkerk leer ons dat Jesus gesê het hul moet die kruike vol water maak. Dis al.

Laat ons dan maar net die kruike water aandra, want Jesus sal dit wyn maak!

 

 Jeug

 

Oproep aan elke lidmaat met kinders:

Staan jy nog by jou doopbelofte

soos hieronder gestel?

Ons raak emosioneel oor die aflê

van die Gelofte op 16 Desember,

maar nie oor ons belofte aan die Here nie.

Hoe so?

Doopgelofte

Geliefdes in die Here Jesus Christus,

julle het gehoor dat die doop ’n Goddelike instelling

is waardeur die Here sy verbond van genade aan ons

en ons kinders waarborg en aan ons

al die gawes van

Christus skenk.

Om te bevestig dat julle die doop

vir hierdie doel gebruik en nie uit gewoonte of bygelowigheid nie,

moet julle opreg op die volgende vrae antwoord:

Ten eerste:

Bely julle dat, hoewel ons kinders

as sondaars in die wêreld gekom het

en daarom onder die oordeel van God staan,

hulle nogtans in Christus aan God behoort

en daarom as lidmate van sy gemeente gedoop moet word?

Ten tweede:

Bely julle dat die leer van die

Ou en Nuwe Testament wat ook in die belydenisskrifte

van ons kerk vervat is en in die kerk hier geleer word,

die ware en volkome leer van die verlossing is?

Ten derde:

Beloof julle om hierdie kind,

van wie julle die ouers (of voog) is, in die leer

na die beste van julle vermoë te onderrig en te laat onderrig?

 

Getuienisaksie

Uitnodiging:

Wil u deel wees van die gemeente se Getuienisbediening?  

Kom sluit aan by die werkgroep. Ons motiveer en energeer die gemeente onder leiding van die Heilige Gees om: 

’Die gemeente se gesig

na die wêreld te draai.’

Ons ondersteun twee sende-linge in onder andere Nepal en Angola en plaaslik is ons by drie VGK gemeentes betrokke.

Ons ondersteun ons sende-linge d.m.v. geloofsoffers, wat

apart van ons dankoffers en bedryfsbegroting hanteer word.

Wat is ʼn geloofsoffer?

ʼn Geloofsoffer is ʼn offer wat ek, bo en behalwe my dankoffer, gee. Dit kan beteken dat

ek iets anders sal moet opoffer. Ek doen dit in die geloof

dat ek die Here kan vertrou

dat Hy, dit wat Hy

op my hart gelê het,

sal voorsien,

en dat dit tot Sy eer

aangewend sal word.”

Dr. Mike Heaney.

082 496 5586

039 312 1028 

 

Koorklanke

Ek het maar onlangs by die koor aangesluit en geniet die geleentheid om die Heer met sang te prys. Wie sou dit nie geniet met ʼn bekwame leidster soos Ada en met Kobus wat met die orrel toor?  Ek sien sowaar Woensdae uit na die kameraderie, skerts, hard oefen en al die pret by ons weeklikse oefening.  Enige persoon wat graag wil aansluit, skakel asseblief met Ada Gribb en kom deel in die pret en vreugde!

Ons in Margate is geseënd om een van die min gemeentes te wees wat nog ʼn koor het.  Verlede kwartaal het ons opgetree met die Paasdiens, Dr Dawie se Emiritaatdiens en met die Pinksterdiens. Dr Dawie se afskeidsdiens was beslis ʼn hoogtepunt wat almal in die koor nog lank sal onthou.

Ons het nuwe koorlede bygekry en sien daarna uit om die kwartaal weer op te tree met die Lentesangdiens in Margate en Port Edward wat DV onderskeidelik plaasvind op 25 Augustus en 1 September. Daar gaan voorwaar hard geoefen word gedurende Julie en Augustus om nuwe musiekstukke aan te leer.

 

Koorgroete,

Lance Devonshire



Naomi

Op 1Junie het die dames bymekaar gekom vir die Naomi byeenkoms. Elda Pretorius het my,  Marie Loots, verwelkom as nuwe Voorsitter. Sy het vir my Filippense 4:13 voorgelees: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Dankie Elda, dit is vir my, met God aan my sy, ʼn groot uitdaging.

Dot van Heerden het vir ons geopen met:

 HOE GROOT

GOD SE LIEFDE IS.

Almal praat van liefde, maar die wêreld het ware liefde nodig, dit kom van God en God se liefde bly altyd dieselfde. Sy het afgesluit deur ʼn gebed voor te lees uit Wanneer ek God loof.

Dolly Bezuidenhout van Port Edward en haar groep het die tafels pragtig versier met die tema ’By die see’. Daar was die mooiste skulpe, selfs seesand, oorspronklikheid en met interessante inisiatief opgekikker met blou.

Ons het lekker Bingo gespeel. Die dames het dit baie geniet, veral die pryse wat gewen is, natuurlik lekkernye.

Ons het die dag op ʼn  hoogtepunt afgesluit met  ʼn verskeidenheid heerlike soppe en broodjies, voorberei deur Dot van Heerden, ons ’kosma’, en haar span.

Alleenlopende dames, kom sluit aan.

Gedagte vir die dag:

Mag elke pragtige dag jou inspirasie wees dat jy nooit omdraai omdat jy moedeloos is nie, nooit ophou omdat jy twyfel nie, altyd lewe om doelwitte na te strewe en vrugte pluk van sukses en geluk en dit uitdeel aan jou geliefdes.

Mag jy God se Grootheid en Almag opnuut ervaar.

Marie Loots — Voorsitter

082 342 3319


Vrouediens

Port Edward

Port Edward het op 1 Junie 'n heerlike makietie, getitel PRETTY WOMEN, gehad, met Sandra Taljaard as spreker.  Sy is 'n voorkomskonsultant en internasionale stylghoeroe. 

Ons het 'n model gekies vir wie sy 'n nuwe voorkoms gegee het. Slegs plaaslike winkels en salonne is gebruik en almal het heerlik saamgewerk. 83 mense het die oggend saam met ons deurgebring en dit was 'n heerlike kuiergeleentheid. Baie dankie aan elke persoon wat so hard gewerk het om hierdie geleentheid aan te bied en dit 'n groot sukses help maak het.

In die Augustus byeenkoms, gaan ons geleer word hoe om fiks te bly al voel die litte soms styf.

Ons ondersteun steeds Malvern Kinderhuis met toiletware al is daar nou onsekerheid oor hulle toekoms.

Maryna de Jager - 082 568 9386

Oggendgroep

Marietjie Grobler het Woensdag, 17 Julie, ons toegespreek oor die tema: Ken jy die stem van die Heilige Gees?

Sy het gevra, lúíster jy na die stem van die Heilige Gees, of hoor jy net? Soms is die stem ʼn fluisterstem soos God in die windstilte met Elia gepraat het. Die Heilige Gees is ook ons     Trooster wat ons troos soos ʼn ma. Ons is ook ʼn tempel van die Heilige Gees. Hy woon in ons en Hy maak ons hande, voete en stem instrumente vir God se werk op aarde.

Hoe reageer jý op die stem van die Heilige Gees? Skop jy teen die prikkels soos Paulus of antwoord jy soos Ananias: ”Hier is ek Here”? Om te hoor wat God vir ons sê moet ons tyd maak vir die Woord en tyd maak om te bid.

Ons het stil geraak in stil gebed, waarna Marietjie vir ons afgesluit het met gebed.

Elize Vermeulen — 082 411 2358

Middaggroep

Daar is vir ons soveel seën opgesluit in die bymekaarkom van ons groepie vroue. ʼn Tydjie wat mens kan wegbreek van die harwar en lawaai van die lewe en wêreld om ons. Dit is ʼn geleentheid om binne elkeen se vermoë ʼn bydrae te kan lewer in die aardse koninkryk en kerk van die Here. Dit is werklik ʼn seën om, al is dit net een Donderdagmiddag elke tweede maand, versterk huis toe te gaan in die wete dat jy deel is van ʼn klein groepie vroue wat die Here met blydskap liefhet.

Lorina Hart - 083 412 1464

Algemeen

Die dames wat die Vrouediens byeenkomste bywoon, verteenwoordig al die dames van die gemeente. Hulle voorsien eetgoedjies by verskeie gemeente byeenkomste, funksies en vergaderings. Indien jy dalk voel dat jy as ʼn vaardige bakster  graag partykeer  ʼn bydrae wil maak om hul te ondersteun, met byvoorbeeld  ʼn dosyn of drie vingerhappies, maar nie byeenkomste kan of wil bywoon nie, kontak een van die leiers en bied jou hulp aan.

Die jaar loop alweer na sy einde en in hierdie kwartaal sal al drie groepe hul jaarlikse afsluiting hê. Maar daar is nog een groot gemeente funksie wat hul reël en finansier, nl. die Senior Onthaal. Baie dankie aan júlle, die staatmakers. Julle volgehoue diens en liefde word waardeer.

Jennie Heaney — Voorsitter 

083 265 0529 

van

barmhartigheid

Ons lewe in ʼn tyd waarin soveel mense daagliks probleme en uitdagings in die gesig staar. Die lewe is nie altyd maklik nie.

Wanneer probleme oor jou pad kom en jy nie meer weet waarheen om te draai nie, lê dit by Jesus se voete neer. Ons probleme is nooit vir Hom te groot dat Hy dit nie in oorwinning kan omskep nie. Elkeen van ons het probleme om te oorwin. ʼn Oorwinnaar is iemand wat volhard. Wanneer ons bid laat ons God toe om aan ons probleme te werk. Gebed is jou sleutel tot oorwinning. Oorwinning kom saam met vergifnis.

Baie dankie aan die basaarkomitee vir die toestemming om by die basaar klere te kon verkoop. Dankie ook aan elk-een wat ons so getrou ondersteun. Ons waardeer dit.

Ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee

deur ons Here Jesus Christus.

1Kor 15:57 — 1983 Vertaling

  Vriendelike groete .

   Daleen Beukes - 078 095 4388

b

Soos in die geval by die meeste gemeentes, beskik Margate ook oor sy eie groepering van lidmate wat reeds die ouderdom van 60 jaar bereik het. Hierdie sosiale klubs het dikwels kleurvolle beskrywende name soos  ”Goue Skakels” , ”Die Wag-ʼn-Bietjies”  en ”Die Amen/Immergroengroep”  Ons eie Kierieklub het ontstaan as die sosiale been van Pro Deo in Maart 2015. Aanvanklik was daar net 16 lede. Die ledetal het met rasse skrede gegroei tot die huidige 80 wat ʼn aanduiding is van die behoefte van ouer lidmate vir ʼn platform vir informele sosiale verkeer.

Met die Kierieklub word geleenthede geskep vir pret en humor wat kenmerkend is van die samesyn wat weerspieël word in gereelde aktiwiteite soos vasvra kompetisies , bingo sessies, samesang, fliek, volkspele en eindelose stories en grappe wat vertel word. Buitemuurse aktiwiteite soos pieknieks, boeresport en bring-en-braai, bly ook nie agterweë nie.

By die Kierieklub word vriendskapsbande gesmee wat blywend en verrykend is. Lede ondersteun en onderskraag mekaar in moeilike tye en vorm gesamentlik ʼn bron van inspirasie en voortdurende onderlinge ondersteuning.

Die Kieries vergader elke tweede en vierde Woensdagoggend van die maand. Nuwe lede is altyd welkom. Voornemende Kieries kan Helene by 084 581 2500 skakel.

Groete.

Theuns Appelgryn.

 

BASAAR 2019

Na weervoorspellings van erge winde, storms en koue, het ons weereens ʼn pragtige, sonnige, windstil dag beleef . Die Here is voorwaar vir ons baie goed.

Na vele worsteling om toestemming te verkry vir die terrein en die opslaan van die tent het ons uiteindelik ʼn pragtige tent gehad wat aan ons grootste verwagtinge voldoen het.

Dit was weereens ʼn voorreg om met die Basaarkommissie saam te werk. Elkeen se entoesiasme en ywer het deurgaans aansteeklik gewerk.

Ons terreinmeester, Robbie Saunders, het hom weereens skitterend gekwyt van sy taak en alles vir die res van ons baie makliker gemaak.

Nêrens was daar ʼn tekort aan werkers by die tafels nie en alles het baie gemoedelik en vlot verloop.

Al die ondersteuning in die vorm van donasies en bydraes vanuit die gemeente, het dit vir ons moontlik gemaak om ʼn baie suksesvolle basaar aan te bied.  Baie dankie!

Ons Kantoorpersoneel, baie dankie vir julle bydrae, harde werk en ondersteuning.

Melt van Niekerk.

Voorsitter Basaarkommissie. 

 

 AARTAPPELKRULLE  

Baie dankie aan almal wat my gehelp het met die aartappelkrulle, vir die donasies van aartappels en olie en almal se persoonlike ondersteuning. Ons het so baie pret gehad. Nogmaals baie dankie aan   almal.

Liefdegroete.

Mary-Ann Korff.

 

JEUGTENT

Die kindertafel het hierdie jaar besluit om bietjie af te skaal. Ons het besluit op ʼn tombola, ʼn lootjie en ʼn springkasteel. Ten spyte van die min aktiwiteite het die kinders hulself ten volle geniet. Hulle was baie opgewonde oor al die pryse wat beskikbaar was.

Dit het ons groot vermaak verskaf om die stralende gesiggies te sien as daar ʼn prys te wen was. Die springkasteel is altyd ʼn groot wenner en was heeldag besig. Die kinders het ons heeltyd ondersteun en die volwassenes nadergetrek. Die dag was geniet deur oud en jonk.

 Beslis ʼn moet vir volgende jaar.

Dan van Rooyen 

 

PLANTETAFEL

Wat ʼn wonderlik voorreg om ons Vader te dien met een van sy mooiste skeppings – blomme en plante.

Baie dankie aan elkeen wat gehelp het om van die plantetafel so ʼn groot sukses te maak in die vorm van skenkings van struike, plante, blombakkies, ens.

Wat ʼn wonderwerk was dit nie dat my ousus, Martie Dixon, na baie maande van ernstige siekte, tot so ʼn mate herstel het, dat sy baie aktief kon help.

       Ek sien daarna uit om DV volgende jaar weer met almal se ondersteuning, hierdie projek aan te pak.

Loof ons Skepper.

Ronel Viljoen


HANDWERKTAFEL

Weereens baie, baie dankie vir al die mooi en netjiese, naaldwerk, breiwerk en hekelwerk wat ons ontvang het. Ek sou graag elke dame wou ontmoet, en persoonlik bedank, maar dit kan nou nie.

So, nogmaals dankie. Baie dankie ook aan die vlytige en vriendelike helpers. Sonder julle hulp kan die tafel nie funksioneer nie, en ook nie sonder my man, wat alles aanry en weer wegry, nie.

Ek hoop ek mag DV volgende jaar weer op julle staatmaak.

Vriendelike groete.

 Elsie Olivier

 

  KOEKTAFEL

Baie dankie vir al die gebak uit die kombuis. 120 dosyn koeksisters was blykbaar nie genoeg nie. Daar was vlakoeke, sjokoladekoeke, alle soorte terte, beskuit, brode en alles wat ʼn tuisnywerheid kan bied. Aan almal wat gehelp het met die verpakking en    

verkope, baie dankie.

  

Ons maak weer so, DV.

  Hannetjie Pretorius

 

PANNEKOEKTAFEL

Woensdagoggend, voor die basaar, is daar ʼn lys van bestanddele wat kort. Skaars ʼn uur later staan ek verstom oor die grootsheid van Sy genade ... bestanddele oorgenoeg!

Tussen meng, bak en .. (brou) ..tussen suikerkorrels strooi, skaterlag en skarrel, vloei een konstante stroom GENADE! Die Heer se trou is groot! Wat ʼn wonderlike, vrolike en geseënde dag was dit vir die bak van pannekoek.

Baie dankie aan elke skenker van bestanddele, aan elke helper, alle kopers! Mag die Heer se seën oor julle reën!

Dankie Heer vir

ʼn wonderlike geleentheid

van saamwerk en samesyn.

Elmarie Pretorius

 

KERRIE en RYS                     

Aan die 16 mense wat gehelp het met die kook van die kerrievleis, baie dankie! Julle is almal op my lys vir 2020 DV.

 Baie spesiale dankie aan Lian Holtzhausen wat 20kg rys vir ons by Larry’s laat kook het. Daarsonder sou ons verseker nie kon klaarkom nie.

Aan elkeen wat ʼn skenking gemaak het – hetsy rys of blatjang – baie dankie.  Ons  waardeer. Dit verminder ons uitgawe en gee ons ’n bietjie meer inkomste.

Die  tafel was van vroeg af baie besig en ons het gewikkel.

Baie  dankie aan ons Heer wat sy seën so oor ons laat skyn het en ons so ʼn pragtige, windlose dag gegee het.

 

Louis van Niekerk


NAGEREGTAFEL

Ons het dié jaar die nageregtafel oorgeneem en wil eerstens Hester Pienaar bedank vir haar leiding en oordra van al die nodige inligting en vaardigheid van soveel jare.  Dit het gehelp om die jaar weer so suksesvol te maak. 

Dankie aan almal wat bestanddele en kontant geskenk het, koue en warm nageregte gemaak het en ook die helpers wat by die tafel gehelp het. 

Laastens dank aan almal met ʼn soettand wat ons ondersteun het en nageregte gekoop het.

Mary Devonshire


WITOLIFANTTAFEL

Dit was ʼn geseënde jaar. Lidmate het ruim gegee - selfs nuwe bruikbare artikels. Die totale inhoud van ʼn eiendom in Margate Aftreeoord is deur ʼn familielid geskenk.  Twee motorhuise was tot ons beskikking gestel vir die opberging van die goedere.

Drie bakkies was beskikbaar om die goedere te ontvang, af te haal en te vervoer en twee seuns om te  help met oplaai en vervoer na die tent.

Die getroue span  het weer hul staal gewys met die uitpak, regpak en rangskik van die tafel en lidmate was op hul pos by verkope, waar dit woes gegaan het.

Dankie aan almal betrokke om die dag ʼn sukses te maak en vir lekker samewerking.

 

Volgende jaar maak ons weer so.

Isak Ludick

 

VETKOEKTAFEL

 Die nuwelinge het sommer dadelik ingeskakel by die span en die gebruiklike gees van heerlike samesyn en samewerking, gemeng met harde werk, het geheers. Baie dankie aan elkeen, van die maalvleiskokers en vetkoekbraaiers tot die verkoper en bedieners. Ons bedank ook die manne van Solas Reco-very Centre vir die uitrol van die deeg.

R8 000 vir vetkoeke in minder as vier ure, vra toewyding en harde werk. Met genade van Bo, maak ons volgende jaar weer so.

Ons bid die Here se genade toe aan ons ou staatmakers, Louis en Marlene van der    Westhuizen, tydens Louis se siekte.

Ferdie van Greunen

 

 

TEE, KOFFIE &  KOELDRANKTAFEL

 Van heel vroeg af was dit ʼn bedrywigheid by die koffietafel. Die mense het tougestaan vir  ʼn koppie boeretroos.

Ons het hierdie jaar vir die eerste keer Cappuccino ook verkoop en dit het verbasend goed gegaan.

Hoe later hoe kwater. Vanaf 11 uur moes ons bontstaan om al die dorstiges se dors te les met heerlike koue koeldranke.

Ons het ook  hierdie  jaar ʼn proeflopie gehad met ʼn penskafee. Twee flukse jong manne het tussen die  tafels deurbeweeg met ʼn hangskinkbord gevul met koeldrank en koue water.

ʼn Baie groot dankie aan diegene (mans en dames) wat in aflosspanne gewerk het by hierdie stalletjie.  Dikwels  was daar nie eers tyd  om  hul eie dors te les nie.

Tot volgende jaar.

Lorina Hart

 BOEPENSBROODJIES  

Saam-saam het ons 200 boepensbroodjies tuis gemaak. By die tafel kon ons dit net verhit volgens die koper se behoefte. Dit is een van die kostafels wat lekker skoon kan bly en waar jy nie te lank hoef te wag nie. Sussie Liebenberg was weer die heel oggend aan diens om die geld te ontvang. Dankie Sussie en baie dankie aan al die ondersteuners. Teen elfuur was die houers leeg.

Indien jy nie een gekry het nie, moenie sleg voel nie, volgende jaar is ons weer daar.

Tot dan.

James & Hester Richards

 

 

 

 

VLEISTAFEL

Die manne wat elke jaar help met die verwerking van die vleis – as julle bedank, kom die vleistafel tot ʼn einde! Ons het hierdie jaar elke dag tussen 25 – 30 mense gehad wat kom help het met die verwerking van die vleis. Dis ʼn nuwe rekord! En ʼn baie aangename gees het geheers.

Die dames wat met die verpakking help en eetgoed verskaf;

Almal by wie ons apparaat leen en dié wat  sorg dat die vleistafel se apparaat altyd in ʼn goeie en werkende toestand is;

Aan Pieter Pretorius van Heidelberg wat sy worsstopper elke jaar aanry en die varke skenk;

Aan Basie en Wickus van Aarde van Hartbeesfontein vir die skenking van ʼn bees;

Baie dankie vir die skenking van R5 000 uit Namibië vir ons vleistafel;

Aan die Mullers in ons gemeente wat die vleis vir die kaiings skenk;

Al die helpers by die vleistafel – ontbyt, rouvleis, worsbroodjies, pap-en-wors, pap-en-kaiings , sosaties en kaartjieverkopers ;

Aan al die genoemde persone ʼn opregte dank van my kant af.

Melt van Niekerk

 JUNIOR  KORRELS

 KINDERS van JESUS

Die venster en die spieël

Eendag, lank gelede, was daar ʼn baie ryk man. Hy het die mooiste huis gehad wat jy ooit aan kon dink en hy het gedink dat sy rykdom hom gelukkig sou maak. Hy het gereken dat hy gelukkig was met homself en met die lewe.

Tog het hy later ongelukkig geraak, want hy kon nie die sin van die lewe vind nie.

Hy laat kom toe die slimste man in die land en vra hom om hom te help om weer geluk en vreugde in sy lewe te vind.

Die wyse man neem hom toe na ʼn groot venster om na buite te kyk. Wat sien jy? vra die wyse man.  Ek sien ʼn arm man wat bedel. En ʼn seuntjie wat ʼn ou dame oor die pad help. Ek sien kinders wat lag en speel.

Toe lei die wyse man hom na ʼn spieël. ”Wat sien jy nou?” ”Ek sien myself.” antwoord die ryk man. Toe verduidelik die wyse man: ”In ʼn venster is daar glas en in ʼn spieël is daar ook glas. Kyk ʼn mens deur die venster sien jy ander mense en hul behoeftes. Voeg jy silwer agter die glas by het jy ʼn spieël waarin jy net jouself raaksien.”

Die ryk man is diep geraak. Van toe af het hy begin om van sy eie behoeftes weg te kyk en om die behoeftes van andere raak te sien. Hy was weer gelukkig, maar op ʼn ander manier.

Christus het ook nie

aan Sy eie behoeftes gedink nie,

maar aan ons.

Daarom het Hy

aan die kruis gesterf

om ons te red.

Ds Deon Burgers

  

JEUG VIR JESUS

Lewensskip

Ek het onlangs ’n groot nuwe avontuur aangepak. Ek het begin seil. Op eerste oogopslag het ek gedink dat dit relatief eenvoudig is, maar toe ek die bote en die fyn tegniek agter elke meganisme op die boot bekyk, het ek anders daaroor gedink. Dit het my nogal aan die resep van die lewe en die resep van Christenskap laat dink. Asof die lewe ’n sekere verloop het en ons die vasbeslote hoop het dat ons al die storms van die lewe sal oorwin as ons die regte stappe volg. Na al my denke op ’n kalm see en selfs sommige dae so stormagtig dat ek gewonder het of ek dit weer na die land gaan maak, het die woorde ’totale vertroue’ vir my ooreengestem met die woord ’oorwinning’. Ek dink nie daar is ’n sekere resep wat ons kan volg wat sal verseker dat ons lewensskip die hawe veilig bereik nie, maar daar is ’n vaste vertroue in die Here. ’n Vertroue dat sy wil groter is as ons eie en ’n wete dat sy gees vir ons intree en ons bystaan deur kalm en stormagtige waters.

Jeanne Guyon skryf:

“There is your will; there is God’s will. There is your plan; there is God’s plan. There is your prayer; there is His prayer. You must agree to His plans. He takes from you all your own workings so that His may be substituted in their place. Therefore, yield. Let God do in you, what He will.“

’n Vers wat dit vir my opsom is Galasiërs 6:9 ”Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.” Ons het nie ’n wenresep wat ons noodwendig deur al die verskillende getye van die lewe kan help nie. Ons kan al die toue van die lewe ken en die Bybel lees van voor na agter, maar sonder vertroue in die Here sal ons nooit oorwinning bo al die storms bereik nie. Soms gebeur daar dinge met ons as mense, wat teen alle logika en lewenswysheid gaan. Dit is dan wat ons nie altyd kan staatmaak op ons goed toegeruste boot of menslike wysheid nie. Ons kan slegs staatmaak op die een wat die wind stuur, die een wat ’totale beheer’ het oor ons lewensskip, sodra ons ’totale vertroue’ uitoefen.

Oorwinning in my oë is as ons nie langer ons eie skip beheer nie, maar soos Paulus in Filippense sê dit wat agter ons is, moet ons agterlaat en ons uitstrek na die prys van ons hoë roeping in Christus.

Probeer om die res van die jaar,

werklik jou lewensvaart in elke aspek

aan Christus oor te laat

om ewige oorwinning te behaal.

Liefde.

Bambie.